|
Vadersdag Vadersdag is een van daardie
lekker dae van die jaar wat mens die pappa van die gesin so bietjie ekstra kan bederf en
kan wys hóé spesiaal hulle is. Vadersdag word die derde Sondag van Junie gehou en is in
Amerika 'n amptelike instelling.
Soos met baie oulike dinge is die oorsprong van Vadersdag nie seker nie. Of dit
nou vanaf 'n kerkdiens in Wes Virginia in 1908 ontstaan het, of nie, maak nie afbreuk aan
hierdie lekker geleentheid nie.
In 1924 het President Coolidge dit 'n nasionale geleentheid in Amerika verklaar
met die volgende mikpunt: "to establish more intimate relations between fathers and
their children and to impress upon fathers the full measure of their obligations."
Met die hedendaagse media en sosiale groepe wat die beeld en karakter van die
vaderfiguur gedurig bespotlik en karikatuuragtig probeer voorstel, word dit vir pappas al
hoe moeiliker om hul plek vol te staan. Goeie maniere en sterk eienskappe soos eerlikheid,
hoë integriteit en ewewig in gees en emosies, word afgekraak en as oudmodies afgemaak.
Goeie vaders het ons liefde en ondersteuning en respek nodig. Dankie aan al die wonderlike vaders wat genoeg van hul gesinne dink om 'n mooi
voorbeeld van Christelike leierskap te toon. Vir u wat nog gereeld saam met die gesin bid
en boekevat, kan ek maar net sê, beter hoekpale as liefde, geloof in Jesus Christus, die
Bybel en gebed, kan daar nie wees nie. Mag die Here u besonder seën terwyl u u gesin
versorg en leer en lei. |