|
Hervorming
Hierdie belangrike tydperk, wat ongeveer
van die 15de tot 17de eeu
geduur het, is van ingrypende belang
vir Protestante. Uit die algemene veranderinge op sosiale, politieke en
staatsvlak in Europa, het groot dinge ontwikkel, wat algemene, maar ook
geestelike hervorming, te weeg sou bring.
Belangrike faktore was oa
dat die mens se
kennis begin toeneem het en tot ondersoeke, selfstudie en
selfstandige denke gelei het. Meer mense het self begin lees en skryf.
Die situasie is ook verder aangestu deur die ontdekking en gebruik van
die drukpers. Dit het daartoe gelei dat kopieë van boekeksemplare veel
makliker gemaak kon word as vorige hand oorgeskrewe geskrifte. Kennis en
inligting kon gevolglik baie vinniger, akkurater
en veelvoudiger versprei. Natuurlik was Bybels ook deel van
hierdie groep geskrifte. Die verspreiding van Bybels
het
baie verbeter en daarmee saam ook kennis van die inhoud en
waarheid daarvan.
Die dwaling en verdoeseling van die
waarhede van die Skrif deur Roomse geestelikes van daardie tyd,
het
teëstand van mense gekry wat dit ernstig met God en Sy gebod bedoel het.
So was daar Johannes Hus (1373-1415) wat vir sy kennis van Gods Woord en sy
geloof in die waarheid van die Skrif, op die
brandstapel gesterf het. Sy
sterwenswoorde was: "In 'n 100 jaar sal God 'n man oprig wie se uitroep
vir hervorming nie onderdruk sal kan word nie". Die vloeiende
bloed van Christen-martelare roep uit om geregtigheid en die vlam van
Hervorming het begin. Die kettings van
ontoeganklikheid, dwaling, onkunde en duisternis sou verbreek
word. Dit geskied deur daardie groeiende groep persone wat self
begin lees en leer het uit die oorspronlike tale soos Grieks en
Hebreeus. Hulle kennis van die tale en die inhoud van die Bybel
lei
hulle tot die begeerte om te werk vir hervorming in die kerk en op
geestelike gebied.
Mense soos Luther, Wycliffe en Calvyn
het
almal begin werk om die Woord uit te dra na die gewone volk en ook in
hul eie onderskeidelike moedertale. Latyn en Hebreeus is vervang in
kerkdienste en die volkstaal is gebruik vir preke en sang, ipv. die ou
tale. Psalms en gesange, dus geestelike liedere en
Hallelujas, is geskryf in die volkstaal en geestelikes het boeke
in die algemene spreekstale begin skryf om hul kennis, insig en opinies
te deel met ander gelowiges.
Maarten Luther (1483-1546) was 'n monnik
wat skerp gekant was en hom vurige
en
openlik uitgespreek het oor die verkoop van aflate (kwytskelding
van straf vir sonde deur betaling), wat deel van die algemene gebruik in
die Rooms-Katolieke kerk was. Toe die pous Luther daaroor veroordeel,
het Luther uiteindelik op Sondag-oggend 31 Oktober 1517 sy bekende 95
stellings teen die kerkdeur gaan vaspen om sy onvergenoegdheid sodoende
te kenne te gee. Dié belangrike
gebeurtenis was 102 jaar na Johannes Hus se
dood. Sy sterwenswoorde is bewaarheid en met Luther het die Hervorming
'n deurbraak gemaak wat nie gestuit kon word nie.
Omdat Luther 'n gelowige en kundige Bybelkenner was,
het hy goed geweet dat mens nie deur werke of geld jou verlossing kan
bewerkstellig of koop nie, maar dat slegs die dood van ons Here Jesus
Christus aan die kruis ons redding kan bewerkstellig. Geen aflaatbriefie
kon Jesus se genadegawe van Sy kruisdood vervang nie.
In 1520 verbrand Luther die banvloek wat deur die pous aan
hom gestuur was in die openbaar en breek dus finaal met die Roomse kerk.
Met dié gebeure in Desember 1520,
word hy die vader van die Hervorming in Duitsland en ontstaan Prostestantisme.
In 1521 met die Ryksdag te Worms, verskyn
Luther voor die keiser waar hy beveel word om alles wat hy geskryf het
terug te trek. Die volgende dag
maak hy sy beroemde stelling: “Tensy
ek deur getuienisse uit die Heilige Skrif of deur duidelike bewyse
oortuig word ... kan en sal ek niks herroep nie, want dit is verkeerd en
gevaarlik om teen die gewete te handel. Hier staan ek! Ek kan nie anders
nie! Mag God my help! Amen."
Maarten Luther vertaal later te Wittenberg
die Bybel in Duits en skryf ook etlike boeke en geestelike liedere
waarvan “'n Vaste burg is ons God” baie bekend is.
In ander dele van Europa sou nog manne
soos Luther na vore tree wat die diep en innige begeerte gehad het om
die waarhede uit die Bybel te put en met andere te deel. Groot name by
godsdienshervorming is Calvyn, wat in
Frankryk en Holland die leiding aan die
beweging gegee het, Knox in Skotland en Zwingli, wat sy eie kerk in
Zürich in Switserland stig. In Engeland was dit John Wycliffe, wie se
invloed uiteindelik sou lei tot Coverdale en Tyndale se vertalings van
die Bybel na Engels.
Natuurlik het die vervolging van
Protestante in Europa en gebeure soos dié van die
Bartholomeusdag-Slagting ook daartoe gelei dat baie van ons voorouers
uit daardie gebiede gevlug het en 'n nuwe heenkome in Suid-Afrika gaan
soek het, waar hulle hul geloof kon uitleef. Die Calvinistiese invloed
op ons geloofslewe is geensins te betwyfele nie.
Die Afrikaanse Bybel wat in 1933 verskyn,
is vertaal vanaf die oorspronklike Grieks en Hebreeus. Name wat
belangrik is om te noem tov die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933, is
Totius, dr. Keet, ds. Van Rooyen en dr. Fourie. Taaladviseurs was oa.
mense soos Malherbe, Smith en Boshoff.
Vir die martelare wat hul goed en bloed
gegee het, sodat ons ons Bybels
daagliks in ons eie moedertaal, nl. Afrikaans, kan lees en bestudeer, sal
ons kwalik woorde van dank kan hê. Vir mense wat met mannemoed
en leeueharte opgestaan het en God's Woord
weer ongeveins en oop en suiwer deurgegee het,
kan mens net ons Here loof en dank. Dié gebeure het daartoe
gelei dat ons
as gelowiges enige tyd van die dag ons Bybel kan oopmaak en lees wat God
se Woord ons wil leer.
Meer inligting by:
|