Fotografie

 

 Opgedateer: 25 Januarie 2010 ** Updated: January 25, 2010

Soek in hierdie webwerf  

 

 

Fotografie:  Beelde van Herinnering

[foto + grafie, vanaf Grieks φώς (phos) "lig" + grafie γραφή (graphê) "tekening", dus "teken met lig".]

Fotografie is die proses en kuns om beelde of prente te maak deur lig vas te vang op 'n ligsensitiewe medium, soos 'n chemiese of elektroniese sensor. Dus "Vang 'n storie vas met lig", of "Vries fotons vir die toekoms".

Pragtige lelie. Fotografie:  Beelde van Herinnering
Kliek foto vir
groter weergawe

 

Die mens het sedert die vroegste tye die behoefte ervaar om sigbare dinge vas te vang in prente of beelde, sodat dit later weer bekyk kan word. Die ontwikkeling van die hedendaagse kamera kan oor 'n tydperk van meer as 2000 jaar gesien word, van die "pinhole", die camera obscura, die daguerrotype, tot die chemiese rolfilm-kamera en die digitale kamera met elektroniese sensors sensitief vir lig.

Hoewel die huidige digitale kamera bekendheid verwerf het sedert die middel '90s, is die gebruik van elektroniese sensor reeds dekades vroeër in die televisie-kamera gebruik, hoewel met 'n effens ander tegnologie en laer resolusie. Bewegende beelde, rolprente of video's, word geskep deur 'n reeks van beelde vinnig na mekaar te vertoon, sodat dit deur die menslike oog as 'n aaneenlopende vloei van gebeure waargeneem word. Dit is toepassings van dieselfde basiese beginsels in parallel met stilkameras. Aanvanklik is dit gewoonlik in twee afsonderlike apparate aangetref, maar daar is 'n neiging tot meer oorvleueling tussen die apparate, met videokameras wat stil foto's kan neem, en stilkameras wat video's kan neem, as sekondêre funksies.

Die beeld wat geregistreer word op die sensor, word bepaal deur watter hoekie van die lig uit die omgewing deur die ligopening kom. Dit word beheer deur 'n lens. Vroeër was daar 'n vaste lens met 'n vaste fokale lengte op die kamera, dus 'n vaste hoek van die beeld is geregistreer. Mettertyd kon lense met verskillende fokale lengtes omgeruil word op 'n kamera. 'n Langer fokale lengte ("lang" of telefotolens) lewer meer vergroting van voorwerpe wat ver is, terwyl 'n korter fokale lengte ("kort" of wyehoeklens) meer van die omgewing insluit, teen laer vergroting. Daar is ook lense met verstelbare fokale lengtes (zoemlense) wat die beeld op die sensor kan verklein of vergroot, maar teen die koste van laer kwaliteit. Meeste kompakte kameras kom met zoemlense, party selfs met 'n faktor van 20x of meer.

Lig word waargeneem deur 'n foton ('n elementêre partikel golf-eienskappe, sonder massa of lading) wat 'n reaksie veroorsaak in 'n medium. Sigbare lig is maar 'n nou deeltjie van die elektromagnetiese spektrum. Daar is ander dele van hierdie spektrum wat gedek word deur gespesialiseerde apparate: infrarooi, ultraviolet, gamma (x-strale), mikrogolwe en radiogolwe. Talle nuttige aanwendings is hierop gebaseer, soos in sterrekunde, navigasie (radar), mediese, polisie en militêre toepassings, asook elektronmikroskopie, dws op die molekule- en atoomvlak.

Terug na die kameras wat algemeen vir die verbruikers beskikbaar is:

Huidige digitale kameras is vinnig besig om in te haal wat vroeër as die grense vir filmkameras beskou was. Die verskil is dat die proses baie eenvoudig geword het, met geen film om te ontwikkel nie en drukwerk kan inhuis op gewone rekenaardrukkers gedoen word. Dis egter so dat kommersiële drukwerk wel goedkoper kan wees, maar selfs hier kan die foto's elektronies met die geheuekaart of per internet oorgedra word, sonder om die oorspronklike te vernietig, of te verswak.

 

Valk. Fotografie:  Beelde van Herinnering
Kliek foto vir groter weergawe

Die tegnologie in die kamera self, het aansienlik verbeter oor die afgelope dekades, sodat dit vir terloopse of informele gebruikers (teenoor entoesiaste of beroepsfotograwe) moontlik is om verbasend goeie resultate te verkry in meeste situasies. Daar is talle hulpmiddels ingebou in talle modelle, soos outofokus, outobeligting ("exposure"), outoflits, outo-sensitiwiteit, outowitbalans, outomatiese bepaling van die toneel (soos verstelling vir portretfoto's, makrofoto's, of selfs vir naglandskappe) en selfs die outomatiese herkenning van gesigte, vir korrekte fokus van mense in die foto.
 
In kameras gemik op algemene gebruikers is daar dikwels 'n oorvloed van toneelmodes ("scene modes"), wat die kamera korrek instel vir portrette, vuurwerke, binne- of buitenshuise sportgeleenthede, die strand, kinders, babas of troeteldiere, partytjies, kerslig, sonsondergang, ens. Natuurlik is daar ook kameras wat die entoesias toelaat om dinge te verstel na hartelus, asook om lense om te ruil, flitse te beheer en selfs in slegte weer te gaan met die apparaat, insluitend in reën en stof en by die see, asook onderwater.
 

Hoe kies ek 'n kamera?

Hierdie vraag is amper soos om te vra: Hoe lank is 'n stuk tou? Dit hang van talle faktore af, insluitende gebruik, prys, verwagting van die kwaliteit van die foto's en grootte.

Kom ons kyk na enkele punte wat 'n aansienlike invloed het op die resultate.

Eienskap Oorweging Kommentaar
Grootte en Gewig As die kamera te groot is om byderhand te wees, kan belangrike foto-geleenthede misgeloop word. Dis beter om effens minder perfekte foto's te hê, as glad nie Kies 'n kamera wat jy gemaklik vind om te hanteer en saam te dra. 'n DSLR (digitale "Single Lens Reflex") met 'n stel lense kan etlike kilogram weeg en ook 'n taamlike volume beslaan, in 'n eie toegewyde sak of tas. Dis dalk nie wat jy in gedagte het nie. 'n Kompakte kamera kan dalk sommer in 'n sak pas. Professionele fotograwe dra ook dikwels 'n kleiner model saam.
Sensor-grootte Die sensor se grootte bepaal in 'n groot mate wat die kwaliteit van die vasvang van die ligpatrone gaan wees.

Met huidige tegnologie en die megapixel-resies, word die sensor in al hoe kleiner deeltjies opgebreek, wat individueel al hoe minder lig opvang. Die staties en dinamies effekte van die elektronika het 'n groter invloed op die ruis ("noise") wat vertoon word in die beeld. Gewoonlik eers sigbaar by hoër sensitiwiteit (ISO 800+), kan dit deesdae reeds opgemerk word in basis-sensitiwiteit, ISO 100 in meeste gevalle.

Kyk na voorbeelde van foto's geneem deur die kameras waarin jy belangstel en besluit watter kwaliteit aanvaarbaar sal wees. Meeste ruis is net sigbaar in aansienlike vergroting. As die omgewing egter swak beligting het, of jy 'n woelige kleuter binnenshuis in foto's wil vasvang, gaan 'n groter sensor beter werk.
Stabilisasie 'n Groeiende deel van die mark het deesdae een of ander vorm van optiese stabilisasie. Dit behels dat die lens óf die sensor beweeg word om trilling of bewing teë te werk. Sodoende kan skerp foto's teen aansienlike laer sluiterspoed (gewoonlik in donkerder omstandighede) geneem word.

LW: Digitale stabilisasie is net 'n tegniek wat die sensitiwiteit opstoot om die sluiterspoed te verhoog. Dit kan saam met optiese stabilisasie gebruik word. Die effek van ruis by hoë sensitiwiteit moet egter in gedagte gehou word.

'n Groot faktor in die uitskakel van onduidelike foto's in swak lig of met "lang" lense.
Beeldsoeker Dit raak al hoe moeiliker om 'n geskikte kompakte kamera met 'n beeldsoeker ("viewfinder") te kry. In meeste gevalle is dit vervang met net 'n enkele LCD ("Liquid Crystal Display") vertoon. 'n Beeldsoeker help dat die kamera teen die oog gehou word in gewone omstandighede. Dit skakel die ekstra beweging uit van die "lang-arm-tegniek", waar die kamera 'n ent van die oog gehou word om die komposisie van die foto op die LCD te kan sien. 'n Kamera met 'n beeldsoeker, opties of elektronies, lewer gewoonlik beter resultate. Toets dit self deur 'n aantal foto's in swakker lig te neem (sonder flits) met net die beeldsoeker, of net met die LCD. Dit help ook om goeie asemhalingsbeheer en postuur te gebruik (hou die arms teen die lyf, blaas die asem uit, druk die sluiter sonder om die kamera te beweeg).
     
Net 'n laaste, maar baie belangrike punt. Digitale foto's is wonderlik, maar kwesbaar as dit net op een plek gebêre word. ALLE media kan op een of ander wyse ophou werk, sodat al jou herinneringsfoto's daarmee heen is. Vermy teleurstelling en sorg dat daar minstens een kopie op 'n ander fisiese medium is. DVD's en CD's kan werk, maar lae-koste media verswak na 'n aantal jaar en kan onleesbaar raak. Eksterne harde skywe is gerieflik en koste-effektief om albums te huisves en kan maklik oorgedra word.
Terug na ADSA

 

 

Tuis|Home
Die Bybel
Hervorming
Moedersdag
Vadersdag
Fotografie
Teddies
Spele
Stede
Pretparke
Vuurtorings
Brûe
Kastele
Argitektuur
Lugballonne
Windkrag
Veerbootrit
Tegnologie
Asimo
Smart Dust
Mars

Tuis|HomeDie BybelHervormingMoedersdagVadersdagFotografieTeddiesSpeleStedePretparkeVuurtoringsBrûeKasteleArgitektuurLugballonneWindkragVeerbootritTegnologieAsimoSmart DustMars

Die wonderlike wêreld van die natuur

Rekenaarwenke

ADSA Werfkaart | ADSA Site Map

     
ADSA Free Ads * ADSA Gratis Advertensies  

ADSA Advertensie-Diens vir die Christelike gemeenskap (engel en kruis)

 Download Bibles

Bybels vir Aflaai

 

ADSA vir Klein Advertensies

ADSA © 1998-2010
Verontskuldiging ** Disclaimer

ADSA for Small Ads